VOORBEREIDING VIR DIE KOREAANSE OORLOG
soos vertel deur Piet Pretorius

Gerd Borchers (regs) en ek.

In hierdie gesprek het Gerd en ek gesels oor ‘n oud vlieënier en instrukteur wat lank gelede by die Groblersdal Vliegklub opleiding gegee het.  Gerd was goed bevriend met Piet Pretorius en het self ook instruksie van Piet ontvang.  Piet het sy vertelling op skrif gestel en aan Gerd gestuur.  Hier volg ‘n verkorte weergawe van Piet se ervarings:

“'n Groep van ons was op die 13 de kursus wat operasionele opleiding op Langebaan ontvang het, maar ons was die eerste vlieëniers in die S.A. lugmag wat gevegsopleiding vir Korea op Vampire stralers ontvang het (April 1953).

Die feit dat ons kursus nommer 13 en die weer uiters mistroostig was, het nie juis bygedra om ons entoesiasme te bevorder nie.  Ons was veronderstel om minstens 4 ure dubbelstuur-onderrig te ontvang voordat ons op alleenvlugte sou gaan.  Ongelukkig was al twee die dubbelstuur-Vampires buite werking en ons was onder die indruk dat hulle eers herstel gaan word.

Onbewus van wat op my wag, klim ek op die oggend van 2 April uit Havard nommer 7086.  Luitenant Cilliers het my die vlieggebied rondom die lughawe uit die lug gaan wys en terselfdertyd gedemonstreer hoe 'n kringvlug met 'n Vampire gevlieg moet word.

2 De luitenant Tommy Booth wie die Havard ná my sou vlieg het terloops aan my gesê: “CP, you are goinig to fly a Vampire.”

Ek het hom verbaas aangekyk en gesê. “Tom, you must be mad, I can’t fly a Vamp.”  Ek was onder die indruk dat hy 'n grap gemaak het.  Tot my uiterste verbasing sien ek in die magtigingsboek die volgende intekening: April 2, Vampire 220 – 2 de luitenant CP Pretorius, 30 minute alleenvlug.

Ek het my boeglam geskrik en gevoel asof ek na my doodsertifikaat kyk.  Nadat ek van die skok herstel het, gaan soek ek tevergeefs na 'n instrukteur, maar die boggers het seker gaan tee drink.

Vampire

Ná ek toe ook maar tee gaan drink het, het ek die magtigingsboek gaan teken asook boek 700 waarin die vliegtuig as diensbaar uitgeklaar word.  Ek het my valskerm oor my skouer gegooi, die pispot (vlieghelm) geneem en na buite gestap... en daar staan die Vampire 220 onskuldig in die oggendson.

Ek het 'n ruk lank stil gestaan, met 'n swaar gemoed en kloppende hart na die uitdagende klein vliegtuigie gekyk. [meer vlieëniers is op Langebaan in Vampires dood as wat in Korea die geval met Sabres was.  Dit was net my vriend Mike Botha wat ná die oorlog in Korea dood is].

Stadig het ek nader gestap en my valskerm op die vlerkpunt neergesit terwyl talle gedagtes deur my kop gemaal het.  In stede van een inspeksie-rondte, het ek vier keer om die vliegtuig geloop voordat ek in die klein kajuit geklim het.

Wat nou gemaak?  Ons het wel 'n dun blou boekie oor die Vampire bestudeer en het 'n tegniese eksamen afgelê, maar op daardie oomblik het die talle wysers, hefbome en knoppies nie veel sin gemaak nie.  Gelukkig kom my instrukteur, luitenant Guy Patterson tot my groot verligting daar aan.

Hy vra toe 'n paar werktuigkundiges om die Vampire se stert af te druk totdat dit die grond raak en sê:  “CP, this is how you should not land.”  Toe vra hy die werktuigkundiges om die stert af te druk sodat die neuswiel ongeveer 12 duim van die grond af is en sê:  “CP, this is how you should land, do you understand?

Vir my was daar min verskil tussen “how you should, and how you should not land dat ek maar net my kop met 'n “yes” geknik het.  Ek glo nie hy het op daardie oomblik geweet wat in my gedagtes rondgemaal het nie.  My eerste poging om die enjin aan die gang te kry, het misluk – 'n “wet start” [ek bedoel die enjin].

Die tweede poging was suksesvol en dadelik kraak die radio: “Weapons 28 [my nommer], you are clear for take off – runway 20.”

Die Vampire beweeg stadig na die vertrekpunt, ek bring haar in lyn met die aanloopbaan.  Toe ek die gasarm oopstoot, skiet die vliegtuig soos ‘n pyl uit ‘n boog vorentoe.  Teen 85 knope trek ek die stok versigtig terug... ons skiet die blou lug in!  Ek vlieg in groot sirkels om die vliegveld om nie te verdwaal nie terwyl die Vampire duiselingwekkend klim.

Op 17,000 voet is daar skielik 'n rooi lig!  Ek besef dat ek versuim het om die lugdrukskakelaar tydens voor-opstyg prosedure aan te skakel.  Gelukkig kon ek die fout dadelik regstel.  Sommer gou is ek op 20,000 voet, die hoogste wat ek nog ooit gevlieg het.


Vampire

Ek druk die stuurstok versigtig vorentoe vir gelykvlug en ver onderkant my lê die swart aanloopbane soos potloodstrepies aan my linkerkant.  Ek besef op daardie oomblik dat ek moet leer om hierdie vinnige vliegtuig wat teen 'n verbysterende snelheid van 400 knope voortsnel, behoorlik te kan beheer.

Eers 'n steil draai na links, dan na regs... die vlerke is nog daar.  As ek nie vir ewig vir hierdie vliegtuig bang wil wees nie is dit nou die tyd om 'n paar kunsvlugte uit te voer.  Min het ek geweet dat ons nie op hierdie stadium veronderstel was om kunsvlugte uit te voer nie.  Ek begin 'n rol na links en merk dat albei vlerke nog daar is.  Nou 'n lus – af grond toe tot die spoed reg is... op en op en om tot die horison agter my verskyn terwyl ek onderstebo vlieg – weer af in 'n duik en terug na gelykvlug.

Ek geniet dit so dat ek vir geruime tyd met die kunsvlugte aanhou sonder om die tyd dop te hou.  Nou weer reguit met bewegings van die stuurstok na links en dan weer regs om die vlerke uit die pad te kry om die pragtige panorama onder my te geniet.  Ek soek gereeld na die vliegveld om nie af te dwaal nie.

Skielik kraak die radio:  “Weapons 28, you must come and land, your fuel must be running low.”  Dit tref my onmiddellik dat hierdie vlug veronderstel was om 30 minute te duur en ek is al 45 minute in die lug!  Ek kyk na die brandstofmeters – daar is ses van hulle.  Almal se inhoud moet bymekaar getel word en 80 gallon moet van die totaal afgetrek word wat nodig is vir die landing indien die eerste landing nie suksesvol is nie.

Dit tref my meteens soos 'n donderslag dat ek hierdie vinnige straalvliegtuig moet gaan land – ek moet die spoed afkry! Gasarm toe en duikremme uit, stok links en vorentoe. Die neus beweeg steil na onder en die Aarde word skielik groter terwyl die Vampire duik teen 'n snelheid van mach .65 en hoogteverlies van 4-5000 v.p.m.  Op 2000 voet bo die grond bring ek die vliegtuig weer in gelykvlug.

Nou begin ek baie besig raak... vra vir klaring om te land.  Wanneer die spoed reg is; gedeelte van die klappe af; wiele uit; duikremme in; liggies almal groen.  Toe ek windaf draai, voel ek iets is nie pluis nie – die Vampire vlieg rukkerig en die kontrole effens slap.  Ek kyk op die spoedmeter – 105 knope en dit moet minstens 120 knope wees!  Die Vampire is so stil binne dat jy geen idee van spoed het nie tensy jy die spoedmeter en toereteller dophou.

Ek stoot die gasarm vol oop en doen weer 'n kringvlug.  Hierdie keer hou ek die spoed noukeurig dop, dit kom stelselmatig af tot ongeveer 150 meter bo die aanloopbaan. Spoed 100 knope, krag af en die Vampire word een met die aanloopbaan wat al korter word. Stok verder terug – die neus begin lig... wiele raak die grond.  Stok heeltemal terug en duikremme weer uit.  Shoe!  Wat ‘n verligting om weer op moeder Aarde te wees!

Om 12.30 kom McPherson in om te land. Op ‘n hoogte van 10 vt staak hy die Vampire en val op die aanloopbaan, maar die onderstel is sterk... gelukkig met geen ernstige gevolge nie.

Ná ete is McPherson en ek gespanne terug na die vliegveld vir ons tweede vlug.  Intussen het Fletcher opgestyg.  Die gewone entoesiasme waar ons tydens wagperiodes kaart speel, het vandag ontbreek...ons dwaal rond.  Ons hoor oor die radio toe Fletcher toestemming vra om te land.  Ons staan nou buite om na sy landing te kyk en sien hoe die linkervlerk skerp val.

Meteens is daar ‘n stofwolk toe die linker vlerkpunt die grond langs die teerblad tref.  Ons hoor die spuitaangedrewe motor brul... die Vampire herstel en tref die grond in 'n waterpas posisie.  Hy ry stadig terug tot op die sementblad en klim uit.  Hy is so wit soos 'n laken en gee 'n verleë laggie.  Ons weet presies hoe hy voel.

Die tyd het aangebreek vir my volgende vlug.  Op 12,000 voet toets ek die Vampire in opdrag en skryf alles neer op die notaboek wat op my knie vasgegespe is – 'n skoon staak; staak met wiele uit; staak met duikremme uit; staak met flappe uit; staak met wiele, flappe en duikremme uit...

Meteens kraak die radio – die stem tref my soos 'n donderslag:  “a Vampire has spun into the ground just north of the airfield.”

Skrik flits deur my brein!  Dit is doodstil... wie is dit, Fletcher, of McPherson?  Ek laat die linker vlerk sak en toe sien ek dit – 'n vliegtuig in vlamme in 'n digte rookwolk gehul.  Die radio kraak weer toe ons nommers gevra word.

Dit is McPherson... hy sal nooit weer vlieg nie!

Naby die basis druk ek die Vampire se neus af en daal teen 5,000 voet per minuut.  Die duikremme laat die Vampire sidder... ek hoor Fletcher se benoude stem:  “I can’t get my boots out, my lights are all red!”  Is sy wiele uit, of is die ligte foutief?  Hy kry opdrag om laag verby te vlieg sodat vanuit die toring met verkykers gesien kan word of die Vampire se wiele uit is.  Gelukkig was dit uit!

Ten spyte van 'n swaer gemoed is daar tog verligting toe die eerste dag van spuitvliegtuie vlieg verby is...    
Ns.   Die Vampires het nie uitskietstoele, òf drukpakke gehad nie.