|
Groblersdal-vallei in die hart van die ou Transvaal is deel van Suid-Afrika se broodmandjie. Dit is egter nie net kos wat hier geproduseer word nie. Die Groblersdal Vliegklub het nogal heelwat vlieëniers deur die jare uit alle vlakke van die samelewing opgelewer. Baie van hulle het nie net vliegopleiding gekry nie, maar ook oorskakelings op ander vliegtuie gedoen. Ek self het ‘n Maul Rocket saam met Flip van Jaarsveld besit en was destyds na hierdie vliegtuig oorgeskakel deur majoor HAP Potgieter van die Lugmag wat ook op Groblersdal vliegopleiding gegee het.
Vlieëniers in hulle mikroligte- en gewone vastevlerkvliegtuie hou die lugruim in die Vallei nogal besig, en dan is daar die manne wat vliegtuie bou. Dit klink alles goed en wel en daar is baie vlieëniers in Suid-Afrika wat hulle eie vliegtuie bou, maar hierdie storie gaan oor ‘n baie besondere vlieënier – die Ysterman van Groblersdal wat ook besig is om ‘n vliegtuig te bou.
Louis van Schalkwyk is ‘n bietjie anders as die gewone vlieënier in die opsig dat hy net een been het! Glo my, met sy een been, wilskrag en selfvertroue het hy al baie meer vermag as baie persone met twee bene. So byvoorbeeld het hy as jongman met net een been aan perderuiter-kampioenskappe deelgeneem, en dít wil gedoen word.
Louis het sy been deur kanker verloor, maar dit het hom nie in die minste gepla nie. In 1973 op 19 jarige ouderdom, kort nadat hy sy been verloor het, ry hy te perd vanaf Marble Hall na Pretoria vir die kankernavorsingsvereniging. Kort daarna in 1973 maak hy weer so en ry te perd vanaf Kimberly na Bloemfontein. Wow! Ysterman? Baie beslis!
Louis is boer en sakeman. Ek vra hom toe wat die dryfkrag agter Louis van Schalkwyk is? Met ‘n vonkel in die oë antwoord hy: “Ek glo nie daar is iets wat ek nie kan doen nie!” Ek het hom nie eers gevra wat sy passie in die lewe is nie want daar is maar net een passie vir Louis en dit is vlieg! Louis se belangstelling in vlieg het baie vroeg in sy lewe gekom toe hy nog maar kaalvoetklong was en deur die jare het die begeerte om te vlieg sterker geword. Sy een been het hom glad nie afgeskrik nie en met ‘n baie klein veranderinkie aan sy mikroligte vliegtuig het hy swaartekrag oorkom en die Aarde verlaat.
Baie mense en besoekende vlieëniers ken Louis as die man wat hulle op die lughawe van brandstof en enige vorm van hulp voorsien, veral tydens die jaarlikse vliegskoue op Groblersdal.
|