VERGETE OORLOGSHELDE - deur Pieter W. Nel
 

Die ander dag kuier ek by Gerd Borchers, ‘n gewaardeerde vriend van my. Gerd en ek het baie in gemeen wanneer dit by vlieg kom. Ons is albei oud-vlieëniers en het nog steeds ‘n passie vir vlieg; ons bly ook albei in Groblersdal. In ons gesprek het Gerd iets aangeroer waaroor ek ook al dikwels gedink het. Ons het lank daaroor gesels - eintlik is dit waaroor ons gesels het ‘n tragiese en vergete deel van die geskiedenis oor sekere van ons oorlogshelde wat in die tweede wêreldoorlog geveg het.

Gerd (regs) en ek tydens ons gesprek    
     

Omdat ons belangstelling in vlieg lê, is dit vanselfsprekend dat ons meer in vegvlieëniers van die tweede wêreldoorlog belang stel. Daarmee sê ons nie dat voet- of seesoldate minder belangrik geag moet word nie. Die gesprek het so begin:

Toe sy twee seuns nog op skool was, vertel Gerd, het hy eendag vlam gevat omdat die seuns popsterre as hulle helde beskou het. Hy het die twee bymekaar gemaak en deeglik laat verstaan wat helde nou eintlik is. Hy het die daad by die woord gevoeg en met die seuns tot by een van sy ou vriende gery – ‘n oorlogsvlieënier met die naam van Paul Kruger wat ná die oorlog op die Springbokvlakte naby Groblersdal kom boer het. Baie Marble Hallers en Groblersdallers sal hom seker nog onthou.

Paul Kruger was ‘n Beauvegter-vlieënier in die tweede wêreldoorlog en vertel toe sy storie aan die twee seuns:

Gedurende die oorlog teen die einde van 1944 was ‘n groot offensief geloods teen die Duitse linies tydens terugtrekkingsoperasies uit Griekeland. Nommers 16, 19 en 25 Eskaders, 7 Vleuel, 5 Eskader (nou met Mustangs toegerus), 15 Eskader en selfs 2 Vleuel het dag en nag krygsvlugte gedurende hierdie operasies onderneem.

 
   
Bristol Beaufighter   Mustangs
     

Paul Kruger-hulle ontvang toe opdrag om ‘n stoomtrein in Duitsland te gaan bombardeer. Oorlog- vlieëniers het ‘n streng reël gehad om nóóit terug te keer om ‘n trein vir ‘n tweede keer aan te val nie. ‘n Trein moes onverhoeds en vinnig aangeval word wanneer hulle dit die minste verwag.

Op hierdie spesifieke dag het Paul Kruger as leier van ‘n eskader Beauvegters die aanval gelei en gou waargeneem dat die trein swaar bewapen was en daarom ‘n baie belangrike vrag moes gedra het. Die trein was deeglik deur die aanvallende vliegtuie getref, maar die lokomotief het die aanval vrygespring.

Paul draai toe om, om die lokomotief aan te val. Die Duitsers was egter daarop voorbereid en tref een van die Beauvegter se enjins. Paul het ‘n pletterlanding in die sneeu in Servia uitgevoer waar die Serwiërs hom gevange geneem het. Volgens Paul is hulle ‘n wrede nasie en het hom erg geïnterrogeer.

Gedurende die oorlog was daar ‘n uitlewerings-ooreenkoms tussen Duitsland en Serwië dat alle offisiere wat krygsgevangenes was, aan Duitsland uitgelewer moet word. Paul sê hy was uiters verlig toe hulle hom aan die Gestapo oorhandig het. Hy was deur die Gestapo per trein na Berlyn geneem waar hy opnuut geïnterrogeer was. Die trein was so vol dat hy die hele pad na Berlyn moes staan wat uiters moeilik en ongemaklik was.

Paul vertel, toe hy geboeid van die trein afgeklim het, die Duitse publiek hom heeltyd rondgedruk het. In sy tronksel vind hy toe sy jas se sakke vol snoeperye en sigarette! Wat ‘n wonderlike ervaring moes dit nie vir Paul gewees het nie!

Sy familie in Suid-Afrika het die ontstellende nuus ontvang dat hy vermis word en vermoedelik dood is. Paul was vir die res van die oorlog ‘n krygsgevangene in Duitsland, maar was ná die oorlog deur die Amerikaners bevry.

Gerd vertel, tydens sy besoek met die twee seuns, het Paul ‘n boek uit die boekrak getrek en ‘n dokument wat al geel van kleur was, uitgehaal. Dit was ‘n dokument vir sy ontslag uit die oorlog, en was al wat hy van die oorlog oorgehou het! Paul het ongelooflike fotos gehad wat deur die bomwerper se masjiengeweer-kameras geneem was, ook ander oorlogsoeweniers en sy logboek wat sekerlik vir hom kosbare waarde gehad het. Toe hy egter as vermis aangegee was, is al sy besittings eenvoudig vernietig asof dit rommel is!

Om stories soos hierdie te hoor is altyd vir die gewone mens dalk interessant, maar iemand wat nie die aaklige hel en verskrikking van ontploffende bomme en fluitende koeëls om hulle ervaar het nie; om uit die lug uit neergeskiet te word in ‘n vliegtuig vol bomme wat enige oomblik kan ontplof, sal nóóit die hel en verskrikking verstaan waardeur manne soos Paul Kruger gegaan het nie!

Hulle is die vergete oorlogshelde wat deur hulle land gestuur was om in sinnelose oorloë te veg!

Die mees tragiese van alles is dat ná die oorlog hulle eenvoudig in die vergetelheid verdwyn het. Daar is baie tragiese verhale agter die oorlogsverhale waarvan feitlik nooit gehoor of gelees word nie. Dit is juis hierdie gedeelte van die oorlogverhale wat Gerd en ek wil gebruik om hulde te bring aan daardie merkwaardige en baie dapper manne en vroue wat die hel en verskrikking van die frontlinies beleef het!

Manne soos Paul Kruger wat in ‘n militêre gevangenis opgesluit was, terwyl sy makkers daarbuite voort geveg het, onder die indruk dat hy dood was...

Niémand sal óóit kan besef wat in daardie manne se koppe aangegaan het wanneer hulle die knoppie van ‘n masjiengeweer, of ‘n vuurpyl gedruk het om die lewe uit ‘n medemens te pers nie ... die vrees, die angs, die skuldgevoel ... maar ook die oorwinning.

Oom Paul ... dankie – namens die volk salueer ons jou!