GROBLERSDAL VLIEGKLUB LUGRESIES - deur Pieter W. Nel

Dis Saterdagoggend 19 Junie. Die tyd is 6 uur in die oggend. Ryp lê wit op die Groblersdal lughawe, byna soos ‘n reuse hand wat dit soos spierwit meel gestrooi het. Dit is ysig koud. Die eerste tekens van lewe by die Klubhuis is ‘n groot vuur wat vrolike vonkies die lug in jaag.


Om die vuur staan ‘n paar vlieëniers en ook ander geesdriftige persone wat almal vlieg in gemeen het. Die ysige koue is egter nie genoeg om die geesdrif van hierdie manne met hulle mikroligte vliegtuie te demp nie. Nou en dan word al die koppe in een rigting gedraai – die geluid van ‘n naderende vliegtuig in hierdie vroeë ure het hoorbaar geword, en nog een, en nog een... Almal staan en kyk hoe die vliegtuigies die lugruim verlaat en op moeder Aarde neerstryk.


Natuurlik word daar kommentaar oor die landings gelewer, maar of dit nou uitstekende landings was, of nie so goed nie, die kameraadskap onder vlieëniers word nie maklik elders ge-ewenaar nie. Die aangeleentheid waarna almal op hierdie ysige oggend uitsien, is ‘n lugresies.

Dawie Erasmus, vlieënier en kommiteelid het die lugresies geïnisieër. Dawie is organiseerder en in beheer van die resies. Om half-sewe roep hy die vlieëniers bymekaar om hulle vertroud te maak met reëls en regulasies. Op sy rekenaar werk Dawie elke vlieënier se opstygtyd, spoed en tydsduur van die vlug uit, wat nogal verskil van vliegtuig tot vliegtuig. Dit word aan die navigators oorhandig waarna opstygtye geklok word.


Dit is ‘n driebeen roete wat gevlieg gaan word en elke vlieënier het ‘n navigator by hom. Op elke punt van die driehoek is beamptes [ook vlieëniers] wat moet toesien dat elke vliegtuig wel by die spesifieke punt aandoen om hulle registrasienommers neer te skryf. By twee punte moet vlieëniers puntlandings uitvoer waar die wiele op ‘n vasgestelde lyn moet land. Die vlieënier en sy navigator wat streng volgens hulle voorafuitgewerkte plan en tydsberekening vlieg, wen die resies. Tydens landings word tye weer geklok.


Paul van Schalkwyk wat drie-en-sestig jaar oud is in sy Aquilla mikroligtevliegtuig en navigator, Brian van der Berg, het die puntlanding gewen met ‘n afstand van ‘n halwe meter vanaf die lyn. Anton Hoffman en navigator seun Johan, ook ‘n vlieënier, in hulle Cheeta was tweede met 7 meter uit. Willem Kruger in sy gyrocopter was derde met ‘n afstand van 9 meter uit.


Die ysterman, Louis van Schalkwyk, vlieënier met net een been, in sy Bantam vastevlerk vliegtuig en navigator Henning van den Berg het die resies gewen presies binne die tydsbestek tussen opstyg en land, dit wil sê zero minute afwyking van hulle vlugplan.


Anton Hoffman, voorsitter van die vliegklub, en seun Johan in hulle Cheeta vastevlerk vliegtuig was tweede met net een minuut uit. Willem Kruger in sy geel gyrocopter en Riaan van der Heever in sy Skyvan vastevlerk vliegtuig met Hennie Bester, ook ‘n vlieënier, as navigator moes die derde plek deel. Beide vliegtuie was twee minute buite hulle vlugplan se tydsduur.


Skrywer van artikel en oud vlieënier moet darem net hier sê dat puntlandings met mikroligte-vliegtuie nie so maklik is nie, omdat dit van verskeie faktore afhang, soos windsterkte, windrigting, lugdruk en hitte gedurende warm dae wat landings dramaties kan affekteer.


Die pret van die oggend was afgesluit met ‘n heerlike ontbyt en die heerlikste koedoewors wat deur Anton Hoffman voorsien is. Laastens, maar nie die minste nie is die vroue agter hierdie manne. Moet hulle asseblief nooit vergeet nie. Hulle het die heerlike ontbyt voorberei en voorgesit!      


Dankie dames... en dankie ook aan Dawie en almal wat die oggend ‘n heerlike sukses gemaak het. Daar word beplan dat die lugresies ‘n gereelde instelling word en ‘n vlieënier van die jaar uit die jaarlikse resultate aangewys gaan word.

Paul van Schalkwyk, wenner van die puntlanding op pad
na die geel lyn, skitterend Paul. 
(Foto:  Piet Nel) 

Louis van Schalkwyk en Henning van den Berg wat die resies gewen het, besig om in die Bantam te klim net voor opstyg. Skitterend gedoen Louis en Henning. 
(Foto:  Piet Nel)

Anton Hoffman en seun Johan by die Cheeta net voor
hulle opgestyg het. Hulle was tweede met puntlanding
en ook tweede met tyd. Goed gedoen ouens, baie geluk. (Foto:  Piet Nel)

Willem Kruger met sy gyrocopter, derde met puntlanding
en deel derde plek met Riaan v/d Heever en Hennie Bester vir die resies. Beide was net 2 minute uit. Willem is bekend daarvoor dat hy gewoonlik wen. (Foto:  Piet Nel)

 

Riaan (regs) en Hennie voor Riaan se Skyvan net voor
hulle opgestyg het. Hulle deel derde plek met Willem
Kruger en sy gyro vir die resies.  (Foto:  Piet Nel)