VAN DROME TOT VLIEG - DEEL I
deur Pieter W. Nel

Die groot altyddurende drama van manne se strewe om die lugruim te oorwin, strek terug tot by die mees afgeleë jare van aangetekende geskiedenis in die lugvaart; en die denkbeeldige mening dat ons beskawing met ruimtereisigers besaai was. Miskien was dit erg aangeblaas deur talle gevlerkte wesens en afgode wat so dikwels die mitologie bevolk het.

Dit was ook benyding wat die voorlopers aangespoor het om voort te gaan, benyding vir die voëls wat swaartekrag so maklik kon oorkom om te vlieg. Ons vind hierdie benydingsgevoel se eggo’s weer en weer deur die eeue.

Vlieg soos die voëls

Somtyds het dit onverskillige, en waaghalsige manne gedryf om met kunsmatige vlerke van kranse en torings af te spring om na hulle dood te val, of hulleself te vermink; om te doen waarin hulle geglo het. Alle vlieëniers vandag stam af van daardie waaghalsige manne van ouds – wie se droom dit was om soos voëls te vlieg. Hulle het gelewe in die vaste geloof dat eendag in die verre toekoms hulle nageslagte geskikte materiaal en meganismes sou vind en vervaardig om die blou lug in te vlieg en hulleself op lang reise deur die hemelruim voort te dra.

Ek wonder wat daardie manne en vlieëniers soos Sir George Cayley, die Wright broers en hulle tydgenote sou sê as hulle ‘n vlugtige toekomsblik in die lugvaart kon hê – om die ontsaglike vooruitgang in die lugvaart te sien waartoe hulle pionierswerk gelei het?

Kom ons kyk ‘n bietjie dieper in die geskiedenis van lugvaart, veral waar vlieg sy oorsprong het. Sal u dit glo as ek sê dat vlieg sy oorsprong eintlik in mitologie het?

Ek begin by die arend-gebore strydwa van koning Kai Kawus van Persië (1500 v.C.). Dit was ‘n vierkantige kontrapsie wat deur vier arende (of ganse volgens die skets] by elke hoek met toue om hulle nekke die strydwa deur die lug getrek het... ekskuus, gevlieg het. En daar was die elfde eeuse Persiese held, Barzou, wat ‘n draak met die naam van Simourg mak gemaak en met hom rondgevlieg het.

Draak waarmee gevlieg word.

Die befaamde Griekse mite in die veertiende eeu simboliseer die waaghalsigheid en gevaar rondom die vroeë lugvaarders op ‘n bewonderenswaardige wyse. In sy doolhowe op die eiland Crete het koning Minos vir Daedalus en sy seun Icarus in die gevangenes gewerp. Daedalus was ‘n meester vakman en was vasberade om uit die tronk te ontsnap, en so het hy vlerke van vere gemaak.

Daarmee het hy en sy seun met vlerkgeklap uit die gevangenis na vryheid die blou lug in gevlieg. Icarus het egter te naby aan die son gevlieg en die gom van sy vlerke het gesmelt, met die gevolg dat hy na sy dood geval het. Dit was die eerste vliegongluk en dood van ‘n vlieënier.

Icarus vlieg te naby aan die son.

Van die vroegste tye af was daar drie voorwerpe, of ontwerpe wat die eienskappe van die lug gebruik het, naamlik die boemerang, die vlieër (kite – oorsprong in China 1000 v.C.), en die pyl met sy stabiliserende vere. Die windmeul in Europa het iewers gedurende die elfde eeu by hierdie drie aangesluit, gevolg deur die vuurpyl wat sy oorsprong ook in China het.

“Saraseen van Konstantinopel” het in die elfde eeu met ‘n gestyfde mantel van ‘n toring afgespring om te sweef, ongelukkig het hy na sy dood geval.

Dit is nie ‘n te verregaande oordrywing dan om te sê dat die moderne skroefaangedrewe vliegtuig die uiteindelike eindproduk is van die vlieër gekombineerd met die windmeul – wanneer die windaangedrewe seile van die windmeul die aktiewe lugskroef van die helikopter word. [Helikopter speelgoed was reeds gedurende die veertiende eeu populêr]. En dat die moderne gas-turbine vliegtuig van die vlieër en eeu-oue vuurpyl afkomstig is.

Die eerste illustrasie in die Westerse wêreld van ‘n “regte” vliegtuig en ‘n bom uit die lug is aangeteken in Walter de Milimete se manuskrip, De Nobilitatibus gedurende die jaar 1326. Dit was ‘n gevlerkte windkous-tipe vlieër wat oor ‘n beleerde stad deur vier manne te voet getrek was. Aan die vlieër het ‘n  bom met vinne gehang wat deur een van die manne laat val word.

Die eerste aangetekende model vuurpylvliegtuig in die vorm van ‘n voël in 1420 word deur ‘n vuurpyl in sy lyf aangdryf. Dit word geïllustreer deur Joanes Fontana in ‘n manuskrip in die Staatsbiblioteek in Munich, Duitsland.

Gedurende 1460 word die eerste illustrasie van ‘n “helikopter” gevind in Le Mans, Frankryk, in die hand van ‘n kind in ‘n skildery van die “Madonna en Kind.” Hierdie vierlem skroef op ‘n as met ‘n bol vlieg wanneer ‘n opgerolde lyn vinnig getrek word. Gedurende daardie tyd was dit hoogs gesofistikeerd, en is waarskynlik die voorloper van die helikopter.

Gedurende 1483 tot 1490 het Leonardo da Vinci talle experimente in lugvaart en ontwerpe uitgevoer, veral “ornikopters” (ornithopters), wat ook  die volgende insluit:

(a)   Klapper-klep tipe vlerk-konstruksie vir ornikopters.

(b)   Kopharnas om ‘n agterste elevator-cum-rigtingsroer te werk.

(c)   Intrekbare onderstel.

(d)   Boogsnaar-motor om die vlerk-flapper meganisme te werk.

(e)   Die wêreld se eerste valskerm.

(f)   Skroefvormige-skroef modelhelikopter wat deur klokwerk opereer.

(g)   Projektiele met vinne.

Ornikopter met twee flappende vlerke.

Reeds in 1615 is ‘n illustrasie deur Fausto Veranzio van ‘n valskerm aangeteken. In ‘n terugblik is dit ironies dat rustig-drywende wolke die eerste suksesvolle lugvaarders geïnspireer het. En toe kom die “swewers” en klop die “flappers” om in die lug te kom met meer as ‘n eeu in tyd.

Fausto Veranzio se valskerm.

In 1678 is ‘n skets aangeteken van ‘n voet-werkende flapper-plank toestel waarmee Besnier gepoog het om in Sablé te vlieg.

Besnier se flapperplank kontrapsie

Karl Friedrich Meerwein, argitek vir die prins van Baden, toets in 1781 sy ornikopter-cum-sweeftuig in Giessen, Duitsland en slaag daarin om kort afstande te sweef.

In 1783 het beide die mensdraende warmlug-ballon en die waterstof-ballon skielik en onverwags hulle verskyning gemaak en het die manne oornag gevind dat hulle met gemak en veilig deur die lug kan reis.

Op 4 Junie 1783 het Ettiene en Joseph Montgolfier in Frankryk hulle eerste demonstrasie met hulle warmlugballon aan die publiek gegee. Hulle het ‘n groot model van linne wat met papier gevoering is, opgestuur. Hulle het geglo dat die ballon opgestyg het as gevolg van ‘n rare vorm van gas wat verkry was deur gekapte strooi en wol te verbrand. Hulle het nie besef dat die ballon deur die warm lug opgestyg het nie. Die Montgolfier-broers het later dieselfde jaar ‘n skaap, hoenderhaan en eend in een van hulle ballonne opgestuur.

Die eerste manne in die geskiedenis wat deur die lug gevlieg het, het op 21 November 1783 plaasgevind toe Pilâtre de Rozier en Marquis d’Arlandes 8 km oor Parys in ‘n Montgolfier warmlug-ballon gevlieg het. Hulle het vanaf die Chateau de la Muette in die Bois de Boulogne opgestyg.

Eerste vlug ooit deur de Rozier en d’Arlandes

Die eerste ontwerp vir moderne konfigurasie-vliegtuie, d.w.s met vaste hoofvlerke en stertgedeelte met rudder en rigtingroer, was deur Sir George Cayley voortgebring. Dit was ook die eerste ontwerp vir ‘n vastevlerk kragaangedrewe vliegtuig (met die gebruik van flappers). In hierdie selfde jaar het Cayley eerste gebruik gemaak van ‘n draaiende arm – vir navorsing in die lugvaartkunde om draagvlakke te toets.

In 1805 word die sydelingse stabiliseringseffek van die tweeflakshoek en die opneming daarvan in ‘n vliegtuig se ontwerp vir die eerste keer besef, weereens deur Sir George Cayley. Hy was ook die eerste persoon wat teen 1807 besef het dat ‘n geronde draagvlak meer draagkrag voorsien as ‘n plat oppervlak, omdat daar ‘n lae drukking op die vlerk voorkom wat grootliks tot die opstyging van die vliegtuig bydra.

Die eerste kragaangedrewe vliegtuig was die Aerial stoomvliegtuig wat deur Henson in 1842 gepatenteer is.

Stoomaangedrewe vliegtuig.

Die eerste bomaanval in die lugvaartgeskiedenis was deur die Oostenrykers uitgevoer toe hulle bomme met warmlugballonne in 1849 op Venisië afgegooi het.

Die eerste lugskip wat ‘n eksperimentele vlug op 24 Sept. 1852 onderneem het was Henri Giffard se stoomaangedrewe lugskip met ‘n maksimum spoed van 8 kpu en 27 km vanaf Parys tot by Trappers gevlieg het.

Die eerste stuurbare kragaangedrewe lugskip van Henri Giffard.

Michel Loup ontwerp die eerste Franse lugskroefaangedrewe vastevlerk vliegtuig in 1853. Die vliegtuig was in die vorm van ‘n reuse voël met twee lugskroewe wat inderwaarheid groot vlerkagtige “toestelle” is wat in die vlerke gemonteer was.

John Stringfellow het sy stoomaangedrewe driedekker modelvliegtuig by die Lugvaartkundige Vereniging se uitstalling in 1868 in die Crystal Palace in London vertoon. Alhoewel dit nie suksesvol was nie was dit wyd gepubliseer, en het tog gelei tot die onwikkeling van die tweedekker- vliegtuig.

Die grootste struikelblok in die vordering van beide die lugskip en vliegtuie in die tweede helfte van die negentiende eeu, was ‘n gebrek aan geskikte ligte, maar kragtige enjins. Gedurende 1860 egter word die toekoms verseker want gedurende daardie jaar was die gasenjin in Frankryk by Lenoir ontwikkel. Gas was in die silinders laat ontplof om die suierkoppe af te druk.

In 1879 vertoon Victor Tatin sy eendekker modelvliegtuig wat deur saamgepersde lug aangedryf word.

Model eendekker vliegtuig deur saamgepersde lug aangedryf.

Gedurende die 1860’s het inderdaad belangrike veranderings plaasgevind in die tipe manne wat lugvaart verder geneem het. Hierdie vakgebied het meer profesionele- en meganies-denkende manne gelok, en asof om hierdie veranderinge af te stempel, onstaan daar toe die stigting in 1863 van die Société d’Aviation in Frankryk wat “swaarder-as-lug” vlugte aangemoedig het, gevolg deur die Lugvaart Vereniging (nou Koninklike) in Britanje in 1866.

In hierdie artikel het ek slegs liggies geraak aan die roemryke ontwikkeling van lugvaart van die vroegste tye af. Om die “chronologie van drome tot vlieg” verder te volg, gaan ons in die volgende uitgawe kyk na opwindende en ongelooflike gebeure en vordering in die lugvaart...

I suppose we shall soon travel by air-vessels; make air instead of see-voyages; and at length find our way to the moon, in spite of the want of atmosphere

Hoofbron van inligting: Flight Through The Ages, by C. H. Gibbs-Smith.