RUSSIESE VLIEGTUIG BESOEK GROBLERSDAL VLIEGKLUB - deur Pieter W. Nel

 


Die Antonov An-2 met Heysteck heel regs
Foto:  P Nel

 

Die Groblersdal Vliegklub was Saterdag 4 Augustus vereer met die besoek van 'n Antonov An-2 Russiese vliegtuig. Die Russe het hierdie vliegtuie in 1948 aan die einde, of net ná die Tweede Wêreldoorlog begin vervaardig. Die Antonov An-2 wat by Groblersdal Vliegklub kom kuier het, is egter 'n 1991 model [want hulle word nog steeds vervaardig] en het in die Russiese Lugmag diens gedoen onder registrasie nommer "Black 81." Rusland het ongeveer 5,000 vervaardig, Poland 12,000 en en niemand weet verseker hoeveel China vervaardig het nie.

Hierdie Antonov An-2 is later deur 'n nuwe eienaar in Madagaskar gekoop waar dit as 'n passasiersvliegtuig gebruik was. Later het dit van eienaar verwissel en is na Botswana gevlieg waar dit gebruik sou word. Die Regering van Botswana het egter beweer dat dit te oud is ten spyte daarvan dat dit slegs 550 ure gevlieg het, waarna dit vir twee jaar gestaan het.

Die vliegtuig is toe deur meneer Heysteck van Niekerk aangekoop. Meneer Derrick Hobkins het die Antonov An-2 vanaf Botswana na die Wonderboom Lughawe in Suid-Afrika gevlieg. Heysteck het met die hulp van meneer John Lock die hele vliegtuig deurgegaan, gediens en 'n interkom-stelsel geïnstalleer. Hulle het die Antonov in haar nuwe Suid-Afrikaanse nommer ZU-FOO geregistreer. Om die Antonov te vlieg moes meneer Derrick Hobkins vir Heysteck leer om na die Antonov oor te skakel. Die besoek van die Antonov op hierdie spesifieke dag was deur die Groblersdal Vliegklub gereël. Die Antonov is 'n agt sitplek vliegtuig met 'n bemanning van twee. Michelle van Niekerk, Heysteck se eggenote, tree op as hulpvlieënier om meer vertroud met die Antonov te raak aangesien sy besig is met haar oorskakeling om ook die Antonov te vlieg.

Lede van die Vliegklub en lede van die publiek was genooi om teen 'n koste van R300 per persoon in die Antonov te vlieg waarna twee vol vlugte na Loskopdam gedoen was. Passasiers kon nie uitgepraat raak oor die wonderlike voorreg om in so geskiedkundige ou vliegtuig te kon vlieg nie.

 


Die Antonov An-2 in sy volle glorie
Foto:  P Nel

 

Kom ons kyk bietjie nader na hierdie merkwaardige vliegtuig wat anders is as enige vliegtuig wat ooit in die Weste vervaardig is. Toe die Antonov An-2 aan westerse waarnemers bekend geword het, het baie van hulle histeries gelag en die Russe beskou as n klomp swape. Selfs kundige waarnemers wat geweet het dat die Russe nooit hierdie vliegtuig sou gebruik om hand aan hand saam met hulle Mig's te veg nie, het dit steeds beskou as ‘n klein bietjie onontwikkeld. Per slot van rekening is die romp-gedeelte die van 'n C-47 (DC-3, onder lisensie geboude Li-2) wat verkort is deur ongeveer die helfte uit te sny. 

Die enjin is 'n Russiese ontwikkeling van die Wright R-1820 Cyclone 9 wat goedgekeur was vir installasie in die De Havilland Otters wat oorspronklik toegerus was met Pratt & Whitney enjins wat 600 p.k. ontwikkel het. Eintlik is die Antonov An-2 ontwerp as 'n Russiese ekwivalent van 'n bos vliegtuig. In hierdie geval het Rusland 'n groot wenner omdat die vliegtuig 'n natuurlike ontwerp vir die geweldige groot en soms ontoeganklike Russiese landstreek was. 

Die Antonov An-2 het uitstaande staak-aanlegte, juis vir al die verskillende en soms onherbergsame landstreke want dit kan gemaklik vlieg teen 35 myl per uur. Omdat die boonste vlerk met neus-vlerkies toegerus is, sal die An-2 nie regtig staak nie. Soos die Helio sal dit net sink wanneer dit te stadig gevlieg word, maar dit sal nie werklik staak nie. Die Antonov is nie vinnig nie - 100 tot 120 m.p.u. is tipiese kruis-spoed. 

Aan die negatiewe kant is die Antonov baie dors en brand ongeveer 230 liters per uur tydens kruis-spoed en suip olie by die liters.

 

Foto:  P Nel