VETERAAN VLIEËNIERS VEREER DEUR GROBLERSDAL VLIEGKLUB
Tydens die Groblersdal Vliegklub se jaarvergadering was daar besluit om vyf veteraan vlieëniers op ‘n gepaste wyse te vereer. Spesiaal geborduurde hemde met die logo van die Vliegklub daarop was aan hulle oorhandig. Dit was werklik ‘n geleentheid van waardering deur hierdie vlieëniers van weleer om baie ver terug te dink aan al hulle avonture gedurende hulle vliegdae en om staaltjies en noue ontkomings met Klublede te kan deel.
 Van links, agter die vlerk van ‘n vliegtuig, is Pieter W. Nel, afgetrede privaat vlieënier wat met ‘n naggraad en veiligheidsgraad toegerus was op sy lisensie. Hy het gedurende sy vliegdae ook vliegtuie gebou en was vir ‘n paar jaar sekretaris van die Groblersdal Vliegklub. Tweede van links is René Vermeulen, wêreldbekende kommersiële oesbespuitings-vlieënier met duisende ure in sy logboeke. Hy het in baie lande in Afrika en ook oorsese lande soos Kanada oesbespuiting gedoen en kan met gesag gesels oor sy ongelooflike vliegervaring en kennis van die vliegbedryf. Derde van links is Gerhard Bachinger, veelbesproke vlieënier wat soms lagwekkende, maar ook yswekkende staaltjies uit sy vliegdae kan vertel. Vierde van links is Gerd [uitgespreek Geerd] Borchers, ‘n ervare privaat vlieënier wat ook ‘n oesbespuitings-besigheid bedryf het. Gerd is ook ‘n sweeftuig vlieënier en het tot onlangs nog sy eie sweeftuig gevlieg. Vyfde van links is Ignat du Plessis, ervare privaat vlieënier. Afgesien van die privaat gebruik van sy vliegtuig, het Ignat dit ook vir besigheid gebruik en dit uitverhuur na lande soos Nabibië, Zambië, Malawie, Tanzanië en nog ander lande. Die vyf veterane is uiters dankbaar teenoor ‘n baie aktiewe en bekawame Vliegklub Komitee oor hierdie gebaar van erkenning en welwillendheid. Dit word hoog aangeskryf en opreg waardeer om steeds deel te kan wees van een van die mees uitstaande Vliegklubs bekend.
|