MERKWAARDIGE VROUE EN HULLE LUGVAART PRESTASIES
- Pieter W Nel
Diegene wat Lugvaart Prestasies Van Weleer geniet het, kan nou gerus ontspan en verder lees oor van die mees verstommende prestasies wat in die groeiende lugvaartbedryf van weleer bereik is.

Wanneer terug gekyk word na die vroegste era in die geskiedenis van lugvaart, sien ons merkwaardige en verstommende prestasies wat byna onmoontlik was met die tegnologie van daardie tyd.  Hulle het byvoorbeeld nie die GPS gehad nie, om die waarheid te sê het hulle baie beperkte instrumente en hulpmiddels gehad en ook nie gesofistikeerde vliegtuie, opleiding, òf die kennis wat ons vandag het nie!

Dit was eers hier teen die begin van die 19 de eeu dat vroue toegelaat was om die wêreld van die manne te betree. Dit sou baie interessant gewees het as ons kon gesien het wat sou gebeur het as vroue ‘n gelyke kans reg van die begin af gegun was.

Hierdie artikel skryf ek graag om hulde te bring aan daardie merkwaardige en baie dapper vroue-vlieëniers en hulle prestasies van weleer, maar ook aan die vrouens agter die manne-vlieëniers wat net so merkwaardig was en almal diep spore in die geskiedenis van die lugvaartbedryf getrap het.

Onthou tog om te kyk na wanneer dit plaasgevind het en waarmee hulle gevlieg het!!!

Die eerste vrou wat ooit in ‘n Lugskip (die Lebaudy) gevlieg het, was madame Paul Lebaudy by Moisson in Frankryk in 1904.

Lebaudy lugskip

Die eerste vroue passasier wat in ‘n vliegtuig vervoer was, was mademoiselle Peltier by Issy-les-Moulineaux, Frankryk op 8 Julie 1908.

Die eerste gesertifiseerde vroue-vlieënier in die wêreld was Mademoiselle la Baronne de Laroche (1886-1919), ‘n Franse aktrise wat ‘n prys gewen het om ‘n vlieglisensie te bekom.  Op 8 Maart 1910 verwerf sy dan op 24 jarige ouderdom Vliegsertifikaat no. 36 nadat sy in ‘n Voisin tweedekker gekwalifiseer het.

Sy het byna omgekom in ‘n vliegongeluk toe sy neergestort het, maar ná sy herstel het, het sy weer begin vlieg en stel ‘n paar vroue rekords op wat ‘n hoogte rekord van 4,500 meter insluit.  Op 25 Desember 1913 stel sy ‘n tydelike rekord op van 323 km in die Coupe Femina wat deur meganiese probleme onderbreek is.  Die oorlog het haar loopbaan onderbreek.

In 1919 het sy egter tragies in nog ‘n vliegongeluk gesterf...

Mdame de Laroche                       Voisin tweedekker

Mejuffrou Edith Maud Cook word die eerste Britse vroue-vlieënier wat ‘n alleenvlug onderneem het. Sy het ook verskeie lug-vertonings onder die naam Spencer Kavanagh gelewer, en het verskeie alleenvlugte in Blériot eendekkers vroeg in 1910 onderneem.  Me Cook was ook ‘n professionele valskermspringer bekend as Viola Spencer.

Blériot eendekker

In Julie 1910 het sy op ‘n roetine valskermsprong uit ‘n warmlugbalon naby Coventry gespring toe ‘n windvlaag haar van koers af gewaai en sy ‘n fabriek se dak getref het.  Sy is ‘n paar dae later oorlede.  Edith was ‘n valskermspringer met 300 spronge agter die rug.  Sy was ‘n warmlugballon-vlieënier asook ‘n vliegtuig-vlieënier.

Madame Denise Moore was die eerste vroue-vlieënier wat in ‘n vliegongeluk gesterf het.  Dit het gebeur toe sy geleer het om ‘n Henry Farman te vlieg by Camp de Châlons in Frankryk terwyl sy op ‘n alleenvlug was.


Farman dubbeldekker

Harriet Quimby was die eerste Amerikaanse vrou wat haar vlieglisensie op 2 Augustus 1911 verwerf het. Op 16 April 1912 het sy die eerste vroue-vlieënier geword wat met ‘n vliegtuig oor die Engelse kanaal gevlieg het.

Sy was die eerste vroue-vlieënier wat in ‘n vliegongeluk gesterf het op 1 Julie 1912 by Boston in die Verenigde State van Amerika.

Harriet Quimby

Kort op haar hakke volg Hilda B Hewlett, die eerste Britse vroue-vlieënier wat Vliegsertifikaat no. 122 op 29 Augustus 1911 verwerf het.

Hilda Hewlett

Die eerste alleenvlug deur ‘n vroue-vlieënier vanaf Suid-Afrika na Engeland was gedoen deur Lady Heath, Ierse vlieënier (1896-1939) in ‘n Avro Avian III tussen 12 Februarie en 17 Mei 1928 vanaf Kaapstad na Croydon.  Dit was tegelykertyd ook die eerste alleenvlug op roete vanaf Kaapstad na Kairo.  Lady Heath was die eerste vroue-vlieënier wat ‘n Kommersiële vlieglisensie verwerf het.

Lady Heath                                                   Avro Avian

Kort op haar hakke volg nog ‘n tragiese ongeluk op 17 Junie 1912 toe Julie Clark van Denver, Colorado, se Curtiss tweedekker ‘n boom getref het by Springfield, Illinois. Sy het op 19 Mei 1912 vir haar Vliegsertifikaat gekwalifiseer.

Julie Clark

Die eerste alleenvlug deur ‘n vroue-vlieënier vanaf Groot Britanje na Australië was deur Ame Johnson in Mei 1930 met Jason, ‘n De Havilland DH60G Gipsy Moth vanaf Croydon na Darwin tussen 5 en 24 Mei 1930.  Haar rekord het onoorwonne tot in 1934 gestaan, totdat ‘n Nieu Zeelandse vroue-vlieënier in ‘n De Havilland DH60M Moth tussen 8 en 23 Mei 1934 haar rekord gebreek het in ‘n alleenvlug vanaf Lympne, Kent, na Darwin, Australië.  Daarmee het sy Amy Johnson se rekord met meer as 4 dae gebreek.

Amy Johnson                                         Gipsy Moth

Amelia Earhart van Amerika was die eerste vroue-vlieënier wat die Noord-Atlantiese Oseaan op 20 Mei 1932 oorgesteek het.  In haar eendekker Lockheed Vega het sy vanaf Harbor Grace, Newfoundland opgestyg en die volgende dag in Londonderry, Noord-Ierland geland.

Gedurende 14 tot 18 November 1932 maak Amy Johnson weer so in ‘n alleenvlug van 4 dae en 54 minute van Engeland na Kaapstad.


Amelia Earhart

Die mees suksesvolste vroue vegvlieënier van die tweede wêreldoorlog, en dus vermoedelik die mees suksesvolste vroue vegvlieënier in die wêreld was die Russiese Lydia Lityvak wat in die Mixed–sex 73rd Guards Fighter Air Regiment diens gedoen het.

Lydia was 14 jaar oud toe sy by ‘n vliegklub aangesluit het en op 15 vlieg sy haar eerste alleenvlug.  Sy sluit toe aan by ‘n militêre vliegskool.  Later gee sy vlieg-instruksie by die Kalinin Vliegklub en toe die Duits/Russiese oorlog uitbreek, het sy reeds 45 vlieëniers opgelei. Sy was ‘n aggressiewe, maar uiters bekwame vlieënier en was die eerste vrouevlieënier wat ‘n vyandelike vliegtuig afgeskiet het.

Op 1 Aug. 1943 word sy in aksie in die ouderdom van 22 jaar afgeskiet, met ‘n totaal van 12 bevestigde oorwinnings met ‘n Yak-1 vegvliegtuig. Wow, wat ‘n vrou!

Lydia Lityvak                             Yak-1 vegvliegtuig

Nog ‘n Russiese vroue-vlieënier wat saam met Lydia geveg het was Katya Budanova (1916-1943) met 11 oorwinnings op haar kerfstok.  Katya het in ‘n vliegtuigfabriek in Moskou gewerk.  Sy ondergaan vliegopleiding en vanaf 1937 gee sy vlieg-instruksie.

Op 19 Julie 1943 vlieg sy haar laaste krygsvlug toe sy in ‘n luggeveg met ‘n Duitse Bf 109 naby Artracit in Luhansk, Oblast betrokke raak.  Haar vliegtuig raak aan die brand, sy slaag daarin om die vuur te blus en doen ‘n pletterlanding.  Boere het haar uit die vliegtuig getrek, maar sy was reeds dood.

Lydia en Katya was waarskynlik die wêreld se enigste twee vroue baas-vlieëniers van die tweede wêreldoorlog.

Katya Budanova

Gedurende die tweede wêreldoorlog het die meeste Russiese vroue vegvlieëniers diens gedoen in die 122 ste Lug Groep van die Sowjet Unie se Lugmag.  Hierdie ten volle vroue-eenheid het bestaan uit 586 Vegter Lug Regiment; 587 Bomwerper Lug Regiment en 588 Nagbomwerper Lug Regiment.

586 IAP (Istebitelnyi Aviatsionnyi Polk = Vegter Lug Regiment) was op die been gebring in Oktober 1941 by Engels langs die Volgarivier.  Dit was aangevoer deur majoor Tamara Aleksandrovna Kazarinova.  Die vlieëniers van hierdie vroue-eenheid het 4,419 gevegsvlugte in totaal gevlieg en aan 125 luggevegte deelgeneem.  Hulle was met 38 bevestigde oorwinnings gekrediteer en het met Yak-1, Yak-7B en Yak-9 vegters gevlieg.

30 van hierdie lugmag vroue het Gold Star of a Hero medaljes van die Sowjet Unie ontvang en 22 van hulle, so word geglo, het in 588/46 Bomwerper Lug Regiment diens gedoen wat met Po-2 tweedekker vliegtuie toegerus was.

This is Earth again, the Earth where I’ve lived and now will live once more... I’ve been to eternity and back. I know how the dead would feel to live again
-  Charles Lindbergh 1927